uniondale article in beeld
 
Monday 7th March 2011

Description

Plek waar selfs die inkommers welkom is

In ’n dorpie soos Uniondale kuier legendes en spoke dalk sommer saam om die tafel of in ’n kroeg. MARZAHN BOTHA het dadelik tuis gevoel in dié pragdorpie met sy interessante karakters.

Uniondale se mense praat van “inkommers”.

Dis nou die nuwe intrekkers wat nog nie lank in die dorp woon nie.

Maar om vir ’n dag ’n “inkommer” in die dorp te wees voordat jy weer Gauteng toe koers kies, laat jou die warmte, opregtheid en kostelikheid van die plaaslike mense waardeer.

Hier kuier jy sommer as ’n gas in die kombuis by Charlene Visser se Bon Accord-gastehuis en loop jy oor die straat na die Town House-gastehuis van

Dave en Trish Cummins om ’n dop te drink. Of die dorp se skindernuus aan te hoor, terwyl jy aanvanklik nie oor die spook wou vra nie, maar jouself later nie kan inhou nie.

DIE SPOOK PLA NIE MEER

Cycil Maple, ’n klong van Victoriabaai, wys vir my die pad Uniondale toe van George af.

“Maar mevrou moet pasop.

“Ek sal nooit in die aand enigsins naby Uniondale gaan nie, veral nie van Willowmore se kant af nie,” sê hy.

“My vriend sê hy het naby die De Rust-kruising gery en skielik het sy motorfiets se ligte vir lank afgegaan en later eers weer aan,” sê hy.

Anton Goosen se spook van Uniondale (in die liedjie Blommetjie gedenk aan my) klink meer gerusstellend as Maple se opsigtelike hoendervel-lyf hier langs my. Die spook is glo dié van ’n meisie wat in 1969 sowat 30 km buite Willowmore saam met haar kêrel in ’n motorongeluk omgekom het.

Haar eerste verskyning is in 1976 aangemeld. Iemand het haar glo opgelaai, waarna sy die motordeure in die ry toegeklap, skril gelag en verdwyn het.

“Ek het nog nooit iets gesien nie en ek is hier gebore,” sê Desiree Matolla by Uniondale Motors en Kafee.

“Mense gis dat sy nou rustig is omdat sy glo haar minnaar gekry het. Ander sê weer sy het nou tot rus gekom,” sê Maria Mokoena, ’n petroljoggie by die vulstasie.

As jy die fliek Susanna van Biljon gekyk het, sal jy die kafee, vulstasie en die oulike karavaantjie herken.
“Dit is maar rustig hier. Kyk hoe staan ons,” lag die mense daar. Dit was lekker om die film crew hier te hê, veral Shaleen Surtie-Richards, David Reese en Karen Zoid.”

DEUR VOORTREKKERSTRAAT

Uniondale se karakter lê in Voortrekkerstraat met sy rits palmbome. Dis maar ’n droë en dor dorpie waar die temperatuur in Januarie en Februarie tot 40°C of selfs 45°C kan styg. In die winter lyk die dorpie egter prentjiemooi onder die sneeu.

Die dorpie is saamgestel uit twee dorpies, Hopedale aan die oostekant en Lyon in die weste.

Ou Karoo-huisies en “nagmaalhuisies” dra by tot die dorp se landelike en onopgesmukte gevoel.

Selfs wyle Dalene Matthee, skrywer van onder meer Fiela se kind en Kringe in ’n bos en wat ook die stigterslid van die historiese gebouvereniging was, het vir ’n rukkie in die ou, wit Standard Bank-gebou (1906) gewoon.

Twee kothuise in Victoriastraat wat in 1850 gebou is en as die Applewood-woning bekend staan, is van die oudste wonings in dorp.

Die hoogste gebou in Uniondale is die Nederduits Gereformeerde kerk (1884), wat deur Otto Hager gebou is, terwyl die intieme Anglikaanse All Saints-kerk (1876) die oudste kerk hier is.

In die begraafplaas is die grafte van Britse soldate wat in 1901 tydens die Anglo-Boereoorlog in die veld gesneuwel het.

Van die ou Britse fort bo die Nederduits Gereformeerde kerk wat tydens dié oorlog gebou is, het jy ’n uitsig oor die Karoo-dorpie, die vlaktes aan jou regterkant en die kronkelpad wat na Avontuur in die Langkloof lei.

As die mis opkom, speel dramatiese tonele hul oor die Kougaberg en Kammanassieberg, die Swartberg en die Baviaanskloof af.

KUIER IN DIE SPOOKDORP

Die kroeg by die Town House-gastehuis (1896) behoort al 30 jaar aan die Cummins-egpaar. Oral hang pette wat besoekers van selfs so ver as Engeland vir Dave stuur.
“Ons locals kry mekaar elke aand so 18:00 vir ’n dop. Vrydae bring elkeen ’n bordjie eetgoed,” vertel Dave.

Die papegaai Fugly kuier op Trish se skouer saam met die gaste.

“Mense is aanvanklik skugter om oor die spook uit te vra, maar ná ’n paar doppe breek hulle die stilte,” sê Cummins.

Die grootwiel-watermeule (1854) wat uit klip, klei en rou baksteen bestaan, behoort aan Robert en Adel Verwoerdt.

Sy vertel: “Ons het in Pretoria gewoon. Toe ek die venters van die fasade van die meule sien, sien ek ’n groot vrou wat by die venters uithang en ’n aria sing.

“Ons het hierheen getrek en ’n restaurant en kunsgalery begin.”

Dis waar hulle fynproewerskos vir al die buitelanders voorsien. Die sterretjie-ingang wat Adel geskep het, verbind die droomwêreld met die aardsheid van die watermeule.

Ná ’n aand se gekuier kon ek rustig uitspan in die Bon Accord-galery-en-gastehuis wat in die 1930’s-1950’s ’n bioskoop en rolskaatsbaan was. Volgens die eienaar, Charlene Visser, was dit die gemeenskap se sosiale bymekaarkomplek.

“Toe ek die plek sien, was ek verlief op die saal.”

Visser het dit in ’n galery en koffiewinkel omgeskep met verblyfgeriewe in die huis langsaan. Haar kat Angelo span heerlik uit op die antieke meubels.

“Mense het my, as inkommer, aanvaar.

“Dis nogal ’n riem onder die hart,” sê Visser.

Nes die Uniondalers Visser aanvaar het, het ek binne een aand gevoel of my inkommery heelwat langer moes duur.

Werd om van te weet :

Bon Accord: 082 772 9187 www.bonaccordhouse.co.za
As jy ’n boek oor die oervlaktes van die Karoo genaamd Die Oervlakte: Primordial Plains Little Karoo wil bestel, skakel Louise Heckl by 0 044 752 1143.
Die Boek Uniondale 2010: Country Living At Its Best/Jou plekkie in die son is uitgegee deur die Uniondale Rapportryers.
Dit neem 2 uur vanaf Knysna tot Uniondale met die Port Alfred-pas.
Die bekende Karoo to Coast-fietswedren van 100 km vind jaarliks tydens September hier plaas.

 
website design, search engine optimisation by ZAWebs Designs
web hosting by ZAWebs Hosting
uniondale article in beeld